Goji News

VRIENDE DEEL LIEFDE VIR FORD MODEL TS

Monday, January 15, 2018

Die 22ste George Oumotorskou, trots ondersteun deur Oakhurst Versekeringsmaatskappy, vind op 10 – 11 Februarie 2018 plaas.

Meer as 40 Ford-modelle wat voor 1930 vervaardig is, gaan tydens die 2018 skou te sien wees, en twee vriende en naamgenote, Philip Kuschke en Phillip Rosser, se Ford Model T’s gaan deel vorm van die uitstalling.

1915 Ford Model T

Philip Kuschke het van ‘n vroeë ouderdom af blootstelling aan veteraan Ford-modelle gehad. “My pa het ook met Ford Model T’s gespeel en toe ek nege jaar oud was, het hy my met sy 1915 Model T leer bestuur.”

Philip se eie 1915-model is vandag nog sy gunsteling. Hy het ‘n koperverkoeler vir dié motor by Ignus Bucher in Alexandria gekry. “Indien ‘n mens ‘n oorspronklike koperverkoeler kan kry, sal die res van die onderdele volg, en ek en Phillip Rosser het baie kilometer agter onderdele aangery.”

Philip kon die meeste van die restourasiewerk, buiten die bekleedsel, self doen.  “My vriend en mentor, Kevin Casey, het baie gehelp met die restourasiewerk, en omdat ek baie onderdele gehad het, het ek met die onderstel en enjin begin.”

Die bakwerk was ‘n groter uitdaging omdat heelwat onderdele gekort het en sommige daarvan uit die VSA ingevoer moes word. “Die vroeë Ford Model T’s het baie hout in die bakwerk. Omdat ek ‘n meubelfabriek besit het, is ek redelik vaardig met houtwerk, en ek kon die bakwerk, speke en stoombuig van die dakkappe self maak.” Uiteindelik het dit vier jaar geneem om die voertuig tot sy volle glorie te herstel.

“Ek is ‘n redelike emosionele mens en ek het groot bewondering vir die mense van toeka se dae. Ek geniet dit om die nostalgie van ‘n eeu gelede te ervaar wanneer ek in enige Model T klim.”

Philip se vrou Rosita deel sy entoesiasme. Sy geniet dit veral om met Philip se 1923 Model T te ry: omdat die voertuig ‘n aansitter het, hoef sy nie die slinger te draai nie. “Sy bestuur dit graag en gaan tydens die Veteraantoer die bestuurder wees.” Sy broer Emil is en sy vrou Hannetjie deel ook die belangstelling.

Die grootste hoogtepunt van Philip se betrokkenheid met hierdie voertuie was die 2008 Ford Model T Eeufeestoer, wat nuwe belangstelling in die antieke motors laat opvlam het.

“Die 2018 Veteraan- en Noagtoer is ‘n direkte uitvloeisel van die 2008 toer. Ons soek immers altyd geleentheid om saam met eendersdenkende mense te kuier.”

In 2018, 10  jaar na die  2008 toer, vier die 2018 Ford Veteraan- en Noagtoertoer ‘n dubbele eeufees omdat die Model T en Model A altesaam reeds 200 jaar  bestaan: Die Model T is 110 jaar oud, en die Model A is 90 jaar oud.

1926 Ford Model T

Phillip Rosser se liefde vir die Ford Model T het begin toe hy op ‘n dag vir Philip Kuschke as navigator tydens ‘n oumotor-tydren opgetree het. “Philip het gemeen dit is belangrik dat ek die voertuig kan bestuur. Ek was so beïndruk dat ek dadelik besluit het ek wil ook een hê.”

In 2006 het hy ‘n vrag onderdele vir ‘n Ford Model T gekoop. Die onderdele, wat erg geroes was, het sowat 60% van die voertuig verteenwoordig, en hy en sy naamgenoot het die land deurkruis op soek na nog onderdele.

Die geroeste stukke wat so bymekaar gemaak is, het baie werk gekos om op te bou en te herstel. Van die werk, soos silinderboorwerk, het hy by ingenieurswerke laat doen, maar hy het self die speke en dele van die bakwerk gemaak en uiteindelik alles aanmekaargesit. Philip Kuschke het gereeld hand bygesit, en na vier jaar was die 1926 Ford Model T voltooi.

Rosser laat nie ‘n kans verbygaan om met sy Ford Model T te ry nie. “Gelukkig deel ek en my vrou Amanda die passie vir ou motors en ons soek altyd ‘n geleentheid om oor naweke iewers heen te ry.”

Dit is vir hulle heerlik om elke jaar aan die Erfenistoer in September, en die Veteraantoer voor die George Oumotorskou deel te neem.

Die 2018 George Oumotorskou vind by die PW Botha Kollege plaas. Spesiale toegangskaartjies vir die naweek of dagkaartjies kan aanlyn bekom word by  https://www.quicket.co.za/events/37471-2018-george-old-car-show-proudly-driven-by-oakhurst-insurance/#/

Slegs voetuie wat voor 1975 vervaardig is en wat geregistreer is, mag uitgestal word. Kontak Klaus Oellrich by 076 764 0897 vir meer inligting, of registreer op die webblad www.scocc.co.za